基本資料 | Information
Die Hoër Volkskool is ’n Afrikaansmedium-hoërskool op Graaff-Reinet en saam met onder meer die Hoërskool P.J. Olivier in Grahamstad, die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp en die Hoërskool Brandwag op Uitenhage een van net ’n handjie vol eentalig Afrikaanse sekondêre skole op die Oos-Kaapse platteland.
Dit was die eerste hoërskool in die destydse Kaapland waaraan Afrikaans die enigste onderrigmedium was en is dus die oudste Afrikaansmedium-hoërskool in die huidige Oos-, Noord- en Wes-Kaap. Die skool maak daarop aanspraak dat die Voortrekkerbeweging hier ontstaan het omdat ’n onderwyser, Japie Heese, die eerste sodanige beweging in 1923 hier gestig het, kort ná die skool se ontstaan.